Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 13

Wat is die goeie nuus oor godsdiens?

Wat is die goeie nuus oor godsdiens?

1. Is alle godsdiens goed?

Daar is goeie mense in alle godsdienste. Dit is goeie nuus dat God hierdie mense raaksien en vir hulle omgee. Maar ongelukkig is baie slegte dinge al as gevolg van godsdiens gedoen (2 Korintiërs 4:3, 4; 11:13-15). Volgens nuusberigte is sommige godsdienste selfs betrokke by terrorisme, volksmoord, oorlog en kindermolestering. Dit maak opregte mense wat in God glo, baie hartseer! – Lees Matteus 24:3-5, 11, 12.

Ware godsdiens eer God, maar valse godsdiens maak hom ongelukkig. Valse godsdiens versprei idees wat nie in die Bybel is nie, insluitende valse leerstellings oor God en oor die dooies. Maar Jehovah wil hê dat mense moet weet wat die waarheid oor hom is. – Lees Esegiël 18:4; 1 Timoteus 2:3-5.

2. Wat is die goeie nuus oor godsdiens?

Gelukkig word God nie mislei deur godsdienste wat sê dat hulle hom liefhet, maar wat eintlik Satan se wêreld liefhet nie (Jakobus 4:4). God se Woord verwys na alle valse godsdiens as “Babilon die Grote”. Babilon is die naam van die ou stad waar valse godsdiens ná die Vloed in Noag se tyd ontstaan het. Binnekort sal God skielik ’n einde maak aan godsdiens wat die mens mislei en onderdruk. – Lees Openbaring 17:1, 2, 5, 16, 17; 18:8.

Daar is nog goeie nuus. Jehovah het nie van die goeie mense vergeet wat onder valse godsdienste regoor die wêreld versprei is nie. Hy verenig hierdie mense deur hulle die waarheid te leer. – Lees Miga 4:2, 5.

3. Wat moet opregte mense doen?

Die ware godsdiens verenig mense

Jehovah gee om vir mense wat lief is vir alles wat waar en goed is. Hy moedig hulle aan om valse godsdiens te verlaat. Mense wat vir God lief is, is bereid om veranderinge te maak om sy hart bly te maak. – Lees Openbaring 18:4.

Toe opregte mense in die eerste eeu die goeie nuus by die apostels gehoor het, was hulle bly. Jehovah het hulle geleer om op ’n nuwe, gelukkiger manier te lewe, ’n lewe met ’n doel en ’n hoop vir die toekoms. Hulle is ’n goeie voorbeeld vir ons wat vandag lewe, want hulle het op die goeie nuus gereageer deur Jehovah eerste in hulle lewe te stel. – Lees 1 Tessalonisense 1:8, 9; 2:13.

Jehovah verwelkom mense wat valse aanbidding verlaat het, in sy gesin van aanbidders. As jy Jehovah se hartlike uitnodiging aanvaar, sal jy ’n vriend van hom word. Jy sal ook ’n nuwe en liefdevolle gesin kry wat mede-aanbidders van Jehovah is, en jy sal vir ewig kan lewe. – Lees Markus 10:29, 30; 2 Korintiërs 6:17, 18.

4. Hoe sal God mense regoor die wêreld gelukkig maak?

Binnekort sal God alle valse godsdiens vernietig, en dit is goeie nuus. Mense regoor die wêreld sal dan nie meer onderdruk word nie. Valse godsdiens sal nooit weer die mens mislei en verdeel nie. Almal wat lewe, sal die enigste ware God in eenheid aanbid. – Lees Openbaring 18:20, 21; 21:3, 4.