Die eerste brief aan Timoteus 4:1-16
4 Maar die geïnspireerde woord* sê duidelik dat party in latere tye afvallig sal word van die geloof omdat hulle sal luister na misleidende geïnspireerde woorde*+ en leringe van demone,
2 weens die skynheiligheid van mense wat leuens vertel,+ wie se gewetens ongevoelig gemaak is, asof dit met ’n brandyster gebrand is.
3 Hulle verbied mense om te trou+ en om sekere kosse te eet,+ maar God het hierdie kosse geskep sodat dié wat geloof het+ en die waarheid goed ken, ’n dankgebed daarvoor kan sê en dit kan eet.+
4 Want elke skepping van God is goed,+ en niks moet verwerp word+ as dit met dankbaarheid ontvang word nie,
5 want dit word geheilig deur God se woord en deur daaroor te bid.
6 Deur hierdie goeie raad aan die broers te gee, sal jy ’n goeie bedienaar van Christus Jesus wees, een wat gevoed word met die woorde van die geloof en van die goeie leringe wat jy getrou gevolg het.+
7 Maar verwerp valse stories+ wat oneer oor God bring, soos dié wat deur ou vrouens vertel word. Werk eerder hard* met toegewydheid aan God as jou doelwit.
8 Want fisiese oefening het min voordeel, maar toegewydheid aan God is voordelig vir alles, want dit hou ’n belofte in vir die lewe wat ons nou het en die lewe wat sal kom.+
9 Hierdie woorde is betroubaar en verdien om ten volle aanvaar te word.
10 Dit is waarom ons hard werk en ons inspan,+ want ons het ons hoop gestel op ’n lewende God, wat ’n Redder+ is van alle soorte mense,+ veral van dié wat getrou is.
11 Hou aan om hierdie bevele te gee en dit aan ander te leer.
12 Laat niemand ooit op jou neersien omdat jy jonk is nie. Word eerder ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in sedelike reinheid.*
13 Totdat ek kom, moet jy aanhou om hard te werk aan openbare voorlesing,+ aansporing* en onderrigting.
14 Moenie die gawe in jou verwaarloos wat aan jou gegee is deur ’n profesie en toe die liggaam van ouermanne hulle hande op jou gelê het nie.+
15 Dink na* oor hierdie dinge, wees verdiep daarin, sodat almal jou vooruitgang duidelik kan sien.
16 Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting.+ Hou aan om hierdie dinge te doen, want so sal jy jouself red en dié wat na jou luister.+
Voetnote
^ Lett. “die gees”.
^ Lett. “misleidende geeste”.
^ Of “Oefen jou eerder”.
^ Lett. “kuisheid”.
^ Of “vermaning”.
^ Of “Peins”.