Daniël 7:1-28

  • Visioen van vier diere (1-8)

    • Klein horing wat spog (8)

  • Oue van Dae gaan sit as regter (9-14)

    • Seun van die mens koning gemaak (13, 14)

  • Betekenis aan Daniël bekend gemaak (15-28)

    • Vier diere is vier konings (17)

    • Heiliges sal koninkryk ontvang (18)

    • Tien horings, of konings, sal opstaan (24)

7  In die eerste jaar van koning Belʹsasar+ van Babilon, het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien terwyl hy op sy bed gelê het.+ Toe het hy die droom neergeskryf.+ Hy het ’n volledige verslag neergeskryf.  Daniël het gesê: “Ek het in my visioene gedurende die nag gesien hoe die vier winde van die hemel die uitgestrekte see onstuimig laat word.+  En vier yslike diere+ het uit die see opgekom. Elkeen was anders as die ander.  “Die eerste was soos ’n leeu,+ en hy het die vlerke van ’n arend gehad.+ Terwyl ek gekyk het, is sy vlerke uitgeruk, en hy is van die aarde af opgetel sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en die hart van ’n mens is aan hom gegee.  “Toe het ’n ander dier verskyn, ’n tweede, wat soos ’n beer gelyk het.+ Sy een kant was opgelig, en daar was drie ribbebene in sy bek tussen sy tande. En daar is vir hom gesê: ‘Staan op, eet baie vleis.’+  “Ek het bly kyk, en toe het ’n ander dier verskyn. Hy het soos ’n luiperd gelyk,+ maar hy het vier vlerke soos dié van ’n voël op sy rug gehad. En die dier het vier koppe gehad,+ en hy het gesag ontvang om te regeer.  “Hierna het ek in die visioene van die nag ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend en skrikwekkend en buitengewoon sterk, en hy het groot tande van yster gehad. Hy het verslind en stukkend gebyt, en wat oorgebly het, het hy met sy pote vertrap.+ Hy was anders as al die ander diere wat voor hom was, en hy het tien horings gehad.  Terwyl ek na die horings gekyk het, het ’n ander horing, ’n kleintjie,+ tussen hulle uitgekom, en drie van die eerste horings is voor hom uitgeruk. En hierdie horing het oë soos die oë van ’n mens gehad, en hy het ’n mond gehad wat spog.+  “Terwyl ek gekyk het, is trone neergesit, en die Oue van Dae+ het gaan sit.+ Sy klere was wit soos sneeu,+ en die hare van sy kop was soos skoon wol. Sy troon was vuurvlamme, en die wiele daarvan was ’n brandende vuur.+ 10  ’n Stroom vuur het van die troon af voor hom uitgevloei.+ ’n Duisend maal duisend het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het voor hom gestaan.+ Die Hof+ het gaan sit, en boeke is oopgemaak. 11  “Ek het aangehou om te kyk omdat ek gehoor het hoe die horing bly spog.+ Ek het gekyk totdat die dier doodgemaak is en sy liggaam in die brandende vuur gegooi en vernietig is. 12  Maar die heerskappy van die res van die diere+ is van hulle weggeneem, en hulle is toegelaat om nog ’n tyd en ’n tydperk te lewe. 13  “Terwyl ek na die visioene van die nag gekyk het, het ek gesien dat iemand soos ’n seun van die mens+ met die wolke van die hemel kom. Hy het toegang tot die Oue van Dae+ verkry, en hy is tot voor Hom gebring. 14  En aan hom is heerskappy,+ eer+ en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sal dien.+ Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie tot ’n einde sal kom nie, en sy koninkryk sal nie vernietig word nie.+ 15  “Ek, Daniël, was baie ontsteld, want die visioene het my bang gemaak.+ 16  Ek het gegaan na een van dié wat daar gestaan het om hom te vra wat dit alles beteken. En hy het vir my gesê wat al hierdie dinge beteken: 17  “‘Hierdie vier yslike diere+ is vier konings wat op die aarde sal regeer.+ 18  Maar die heiliges van die Allerhoogste+ sal die koninkryk ontvang,+ en hulle sal die koninkryk vir ewig besit,+ ja, vir ewig en altyd.’ 19  “Toe wou ek meer weet oor die vierde dier, wat anders was as al die ander. Hy was buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en kloue van koper, en hy het verslind en stukkend gebyt, en wat oorgebly het, het hy met sy pote vertrap.+ 20  Ek wou ook meer weet oor die tien horings+ op sy kop en oor die ander horing wat uitgekom het en drie ander horings laat val het.+ Daardie horing het oë gehad, en ’n mond wat spog, en hy was groter as die ander. 21  “Terwyl ek gekyk het, het daardie horing teen die heiliges oorlog gevoer. Hy het die oorhand oor hulle gehad+ 22  totdat die Oue van Dae+ gekom het en ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste+ geoordeel het en die vasgestelde tyd aangebreek het vir die heiliges om die koninkryk in besit te neem.+ 23  “Dít is wat hy gesê het: ‘Die vierde dier is ’n vierde koninkryk wat op die aarde sal wees. Dit sal anders wees as al die ander koninkryke, en dit sal die hele aarde verslind en sal dit vertrap en verwoes.+ 24  Die tien horings is tien konings wat uit daardie koninkryk sal opstaan. Ná hulle sal nog ’n ander een opstaan, en hy sal anders wees as die eerstes, en hy sal drie konings verneder.+ 25  Hy sal teen die Allerhoogste praat,+ en hy sal aanhou om die heiliges van die Allerhoogste te vervolg. Hy sal daarop uit wees om tye en wet te verander, en hulle sal vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd* in sy hand gegee word.+ 26  Maar die Hof het gaan sit, en hulle het sy heerskappy weggeneem, en hy is verwoes en heeltemal vernietig.+ 27  “‘En die koninkryk en die heerskappy en die heerlikheid van al die koninkryke onder die hemel is gegee aan die volk wat die heiliges van die Allerhoogste is.+ Hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk,+ en al die koninkryke sal hulle dien en gehoorsaam.’ 28  “Dit is die einde van die saak. En ek, Daniël, was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het oor die saak bly nadink.”

Voetnote

D.w.s. drie en ’n half tye.