Genesis 11:1-32

  • Toring van Babel (1-4)

  • Jehovah verwar taal (5-9)

  • Van Sem tot Abram (10-32)

    • Tera se familie (27)

    • Abram verlaat Ur (31)

11  In daardie dae het die hele aarde nog steeds een taal en een woordeskat gehad.  Terwyl hulle ooswaarts getrek het, het hulle ’n valleivlakte in die land Siʹnear+ ontdek, en hulle het daar gaan woon.  Toe het hulle vir mekaar gesê: “Laat ons bakstene maak en dit in die vuur bak.” Hulle het toe bakstene in plaas van klip gebruik, en asfalt as messelklei.  En hulle het gesê: “Laat ons vir ons ’n stad bou, en ’n toring wat tot by die hemel reik, sodat ons beroemd kan word en nie regoor die aarde verstrooi word nie.”+  Toe het Jehovah neergedaal om die stad en die toring te sien wat die mense gebou het.  Jehovah het toe gesê: “Hulle is een volk met een taal,+ en kyk wat doen hulle nou! Nou sal niks wat hulle beplan om te doen, vir hulle onmoontlik wees nie.  Laat ons+ neerdaal en hulle taal verwar sodat hulle nie meer mekaar se taal kan verstaan nie.”  So het Jehovah hulle van daar af oor die hele aarde verstrooi,+ en hulle het geleidelik opgehou om die stad te bou.  Daarom is dit Babel*+ genoem, want daar het Jehovah die taal van die hele aarde verwar, en Jehovah het hulle van daar af oor die hele aarde verstrooi. 10  Dít is die geskiedenis van Sem:+ Twee jaar ná die Vloed, toe Sem 100 jaar oud was, het hy die vader van Arpagʹsad+ geword. 11  Nadat Sem die vader van Arpagʹsad geword het, het hy nog 500 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.+ 12  Toe Arpagʹsad 35 jaar oud was, het hy die vader van Selag+ geword. 13  Nadat Arpagʹsad die vader van Selag geword het, het hy nog 403 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 14  Toe Selag 30 jaar oud was, het hy die vader van Eber+ geword. 15  Nadat Selag die vader van Eber geword het, het hy nog 403 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 16  Toe Eber 34 jaar oud was, het hy die vader van Peleg+ geword. 17  Nadat Eber die vader van Peleg geword het, het hy nog 430 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 18  Toe Peleg 30 jaar oud was, het hy die vader van Rehu+ geword. 19  Nadat Peleg die vader van Rehu geword het, het hy nog 209 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 20  Toe Rehu 32 jaar oud was, het hy die vader van Serug geword. 21  Nadat Rehu die vader van Serug geword het, het hy nog 207 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 22  Toe Serug 30 jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword. 23  Nadat Serug die vader van Nahor geword het, het hy nog 200 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 24  Toe Nahor 29 jaar oud was, het hy die vader van Tera+ geword. 25  Nadat Nahor die vader van Tera geword het, het hy nog 119 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. 26  Nadat Tera 70 jaar oud geword het, het hy die vader van Abram,+ Nahor+ en Haran geword. 27  Dít is die geskiedenis van Tera: Tera het die vader van Abram, Nahor en Haran geword, en Haran het die vader van Lot+ geword. 28  Haran het in sy geboorteland, Ur+ van die Galdeërs,+ gesterf terwyl sy vader, Tera, nog gelewe het. 29  Abram en Nahor het vir hulle vrouens geneem. Abram se vrou was Sarai,+ en Nahor se vrou was Milka,+ die dogter van Haran, die vader van Milka en Jiska. 30  Sarai was onvrugbaar;+ sy het geen kinders gehad nie. 31  Tera het toe sy seun Abram geneem en sy kleinseun Lot,+ die seun van Haran, en sy skoondogter Sarai, die vrou van sy seun Abram, en hulle het saam met hom uit Ur van die Galdeërs getrek om na die land Kanaän+ te gaan. Ná verloop van tyd het hulle by Haran+ gekom en daar gaan woon. 32  Tera was 205 jaar oud toe hy in Haran gesterf het.

Voetnote

Beteken “verwarring”.