HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Hulle skakel in by die streekbyeenkoms
1 AUGUSTUS 2021
Die streekbyeenkoms vir 2020 was geskiedkundig. Dit was ons eerste wêreldwye streekbyeenkoms wat opgeneem is en op die Internet beskikbaar gemaak is! Maar in Malawi en Mosambiek het die meeste van ons broers en susters die streekbyeenkoms geniet sonder om die Internet te gebruik. Hoe was dit moontlik?
As ’n uitsondering het die Koördineerders- en Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam toestemming gegee dat die streekbyeenkoms in Malawi en Mosambiek oor die televisie en radio uitgesaai word. Hoekom was hierdie uitsondering nodig? Malawi het van die duurste Internetkoste in die wêreld, en daarom het min Getuies toegang tot die Internet. William Chumbi, ’n lid van die Takkomitee in Malawi, het verduidelik: “Radio en televisie was die enigste manier hoe die broers en susters toegang tot die streekbyeenkoms kon kry.” Luka Sibeko, wat ook ’n lid van die Takkomitee in Malawi is, voeg by: “As ons nie die streekbyeenkoms oor die TV en radio kon kyk en luister nie, sou baie min broers in ons takkantoor se gebied daarby kon baat vind.” In Mosambiek was daar ook baie min broers wat ’n elektroniese toestel kon bekostig waarop hulle die streekbyeenkoms kon kyk, en hulle kon beslis ook nie Internettoegang bekostig nie.
Hoe die reëlings getref is
As gevolg van die COVID-19-pandemie het sekere televisie- en radiostasies al klaar gemeentelike vergaderinge uitgesaai. a Ons broers het hierdie stasies gekontak en vir meer uitsaaityd gevra vir die streekbyeenkoms.
In Malawi was ons broers in ’n moeilike situasie. Gewoonlik beperk die stasies kliënte tot ’n uitsaaityd van een uur. Die stasies is bekommerd dat die gehoor nie belangstel in langer programme nie. Maar ons broers het verduidelik dat ons werk die gemeenskap help. Selfs gedurende die inperking gee ons mense vertroostende goeie nuus uit die Bybel, wat hulle kan help om goeie burgers te wees en om ’n gelukkige gesinslewe te hê. Toe die stasies dit hoor, het hulle die broers se versoek vir meer uitsaaityd aanvaar.
In Malawi is die streekbyeenkoms deur ’n televisiestasie en ’n radiostasie uitgesaai. Albei stasies is regoor die land beskikbaar, en miljoene mense het toegang daartoe. In Mosambiek is die streekbyeenkoms deur een televisiestasie en 85 radiostasies uitgesaai.
In albei lande is altesaam amper R423 000 gespandeer om die streekbyeenkoms oor die televisie uit te saai en omtrent R300 000 gespandeer om dit oor die radio uit te saai. Die koste om dit uit te saai, het gewissel van omtrent R225 vir ’n klein radiostasie tot meer as R41 000 vir ’n landwye radiostasie.
Ons broers het hard gewerk om donasies op die beste manier te gebruik. Byvoorbeeld, in Malawi kon hulle vir beter pryse onderhandel, en in een geval het hulle ’n afslag van 30 persent gekry. Altesaam het die afslag omtrent R25 000 gespaar. In Mosambiek was party stasies bereid om ons minder te vra as gevolg van ons goeie reputasie vir eerlikheid en omdat ons op tyd betaal.
Woorde van dankbaarheid
Ons broers was baie dankbaar dat hulle die streekbyeenkoms op plaaslike stasies kon kyk of hoor. Patrick, ’n ouerman van Malawi, sê: “Ons sê dankie vir die broers van die Bestuursliggaam vir alles wat hulle vir ons gedurende die pandemie gedoen het.” Isaac, ook van Malawi, sê: “Ons het geen ander toestelle nie. So ons was baie dankbaar vir die spesiale voorsiening van Jehovah se organisasie om na die streekbyeenkoms oor die radio te luister. As gevolg van hierdie voorsiening kon my hele familie die streekbyeenkoms geniet. Dit was vir ons ’n bewys van Jehovah se liefde vir sy volk.”
Vir een verkondiger in Mosambiek was die streekbyeenkoms vir 2020, sy eerste streekbyeenkoms. Hy sê: “Die reëling om na die streekbyeenkoms op die TV te kyk, het my herinner dat Jehovah die almagtige God is. Die pandemie het hom nie gekeer om vir ons geestelike voedsel te gee nie, en dit sommer in my sitkamer. Ek kon die liefde onder Jehovah se volk sien. Ek is oortuig dat dit die ware godsdiens is.”
’n Ouerman met die naam Wyson sê: “Ek wil graag dankie sê vir die manier hoe die getroue slaaf vir ons gedurende die pandemie gesorg het. Hierdie voorsiening om die streekbyeenkoms oor die radio en TV uit te saai, het baie van ons gehelp wat finansieel swaarkry in hierdie arm deel van die wêreld. Ons kon die program geniet en daarby baat vind.”
Vir die streekbyeenkoms vir 2021 het die Koördineerders- en Onderrigtingskomitee weer ’n uitsondering gemaak sodat die streekbyeenkoms oor televisie en radio in sekere gemeenskappe uitgesaai kan word. Hoe dek ons die koste om die streekbyeenkoms op hierdie manier uit te saai? Deur donasies aan die wêreldwye werk, waarvan baie deur middel van donate.pr2711.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewige bydraes.
a Vroeër in 2020 het die Koördineerderskomitee toestemming gegee dat gemeentelike vergaderinge oor televisie en radio in sekere plekke gedurende die COVID-19-pandemie uitgesaai word. Hierdie voorsiening het mense gehelp wat nie toegang het tot plaaslike gemeentelike vergaderinge of JW Stream nie. Dit is dalk omdat hulle in gemeenskappe woon waar Internettoegang en selfoondienste nie maklik beskikbaar of bekostigbaar is nie. Maar hierdie reëling is nie bedoel vir gemeenskappe wat kan inskakel by vergaderinge van ’n plaaslike gemeente nie.