VOORBLADONDERWERP
Hoe lank kan jy lewe?
TOE Harriet in 2006 dood is, was sy omtrent 175 jaar oud. Harriet was natuurlik nie ’n mens nie. Sy was ’n Galápagos-skilpad in ’n dieretuin in Australië. In vergelyking met ons het Harriet baie lank gelewe. Maar in vergelyking met ander lewende dinge het sy nie ’n besonder lang lewensduur gehad nie. Kyk na ’n paar voorbeelde.
Die varswater-pêrelmossel kan 200 jaar lank lewe, sê navorsers in Finland.
Die grawende gapermossel lewe dikwels langer as 100 jaar, en party het na bewering al oor die 400 jaar oud geword.
Verskeie bome, soos die stekelden, die reusesequoia en party sipresse en sparre, lewe duisende jare lank.
Maar mense, wat oor die algemeen as die hoogste lewensvorm op die aarde beskou word, lewe selde langer as 80 of 90 jaar—ondanks die buitengewone pogings wat mense soms aanwend om langer te lewe!
Wat dink jy—is sowat agt dekades al wat ons kan verwag? Of bestaan die moontlikheid dat ons baie langer kan lewe? Baie mense hoop dat die wetenskap en mediese tegnologie ons lewe sal verleng.
Kan die wetenskap help?
Die wetenskap het ’n groot bydrae gelewer op die gebied van gesondheid en mediese tegnologie. Vandag “sterf minder mense [in die Verenigde State] weens aansteeklike siektes of komplikasies by kindergeboorte”, sê die tydskrif Scientific American. “Sterftes onder kinders van drie jaar en jonger het sedert 1960 met 75 persent afgeneem.” Maar die wetenskap het beperkte sukses daarmee gehad om die lewensduur van volwassenes te verleng. “Selfs ná dekades se navorsing bly veroudering grotendeels ’n raaisel”, sê ’n ander uitgawe van Scientific American. Maar “bewyse dui daarop dat veroudering moontlik plaasvind wanneer genetiese programme wat ontwikkeling beheer, nie meer doeltreffend werk nie”. Die artikel sê verder: “As veroudering hoofsaaklik ’n genetiese proses is, sal dit moontlik eendag voorkombaar wees.”
“Selfs ná dekades se navorsing bly veroudering grotendeels ’n raaisel”
In hulle soeke na die onderliggende oorsake van veroudering, insluitende ouderdomsverwante siektes, ondersoek party wetenskaplikes onlangse verwikkelinge in ’n studieveld van die genetika wat epigenetika genoem word. Wat is epigenetika?
Lewende selle bevat genetiese inligting, wat nodig is vir die vervaardiging van nuwe selle. Baie van hierdie inligting word gevind in die genoom, ’n term wat na al die DNS in ’n sel verwys. Maar in onlangse tye het wetenskaplikes ’n noukeuriger studie gemaak van ’n ander versameling meganismes binne die sel—die epigenoom, ’n woord wat “bo die genoom” kan beteken. Epigenetika is die studie van hierdie verstommende groep meganismes en hulle chemiese reaksies.
Die molekules waaruit die epigenoom bestaan, lyk glad nie soos DNS nie. Terwyl die DNS soos ’n gedraaide leer, of dubbelheliks, lyk, is die epigenoom basies ’n stelsel van chemiese merkers wat hulle aan DNS heg. Wat is die rol van die epigenoom? Soos ’n dirigent wat ’n orkes lei, beheer die epigenoom die manier waarop genetiese inligting in die DNS gebruik word. Die molekulêre merkers skakel groepe gene aan of af in reaksie op die behoeftes van die sel sowel as omgewingsfaktore, soos dieet, spanning en gifstowwe. Onlangse ontdekkings met betrekking tot die epigenoom het ’n omwenteling in die biologiese wetenskappe teweeggebring, wat tot gevolg gehad het dat epigenetika met spesifieke siektes en selfs veroudering verbind word.
“[Epigenetika hou] vermoedelik verband met verskeie siektes, van skisofrenie tot gewrigsrumatiek, en van kanker tot chroniese pyn”, sê ’n navorser op die gebied van epigenetika, Nessa Carey. En dit “speel beslis ’n rol in veroudering”. Navorsing in verband met epigenetika kan dus lei tot doeltreffende behandelings om gesondheid te verbeter, siekte—insluitende kanker—te bestry en sodoende lewe te verleng. Maar op die oomblik is daar geen groot deurbrake in die vooruitsig nie. “Ons moet maar bly by ons ou roetine [om veroudering teë te werk]”, sê Carey, “baie groente” en “genoeg oefening”.
Maar waarom doen mense so baie moeite om hulle lewe te verleng? Waarom wil ons vir altyd lewe? Die Britse koerant The Times het gevra: “Waarom is mense oral in die wêreld so behep met die idee om die dood te uitoorlê, hetsy deur onsterflikheid, ’n opstanding, die hiernamaals of reïnkarnasie?” Soos ons nou sal sien, werp die antwoord lig op wat werklik die onderliggende oorsaak van veroudering is.
Waarom wil ons vir ewig lewe?
Denkende mense worstel al duisende jare lank met hierdie vraag. Is daar ’n logiese, bevredigende verduideliking—een wat strook met ons fisiese samestelling sowel as ons natuurlike begeerte om vir ewig te lewe? Miljoene mense sal met ’n besliste ja antwoord! Waarom? Hulle het die bevredigendste antwoorde omtrent die menslike natuur in die Bybel gevind.
Uit die staanspoor sê die Bybel duidelik dat mense, hoewel hulle sekere dinge met ander skepsele in gemeen het, wesenlik van hulle verskil. Ons lees byvoorbeeld in Genesis 1:27 dat God mense na sy beeld geskep het. In watter opsig? Hy het ons die vermoë gegee om liefde, geregtigheid en wysheid te openbaar. En as die Een wat vir ewig lewe, het God ons geskep met die begeerte om vir ewig te lewe. Hy “het die ewigheid in mense se hart en verstand gesit”, sê Prediker 3:11.—The Amplified Bible.
Die vermoë van die mensebrein, veral die potensiaal wat dit het om te leer, lewer bewys dat mense oorspronklik geskep is om baie langer te lewe as wat ons vandag lewe. The Encyclopedia of the Brain and Brain Disorders sê dat die langtermyn-onthouvermoë van die mensebrein “feitlik onbeperk” is. Waarom het die brein hierdie vermoë as die doel nie was om dit te gebruik nie? Ja, op basiese maniere weerspieël mense God se oorspronklike voorneme vir die mensdom. Waarom word ons dan oud, ly ons en sterf ons?
Waarom ons oud word en sterf
Die eerste man en vrou het volmaakte liggame asook wilsvryheid gehad. Ongelukkig het hulle hierdie wilsvryheid misbruik deur teen hulle Maker in opstand te kom (Genesis 2:16, 17; 3:6-11). * Hulle ongehoorsaamheid, of sonde, het hulle baie skuldig en skaam laat voel. Dit het ook ’n nadelige uitwerking op hulle liggame gehad, wat daartoe gelei het dat hulle stadig en onkeerbaar agteruitgegaan het totdat hulle gesterf het. “Die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde”, sê 1 Korintiërs 15:56.
In ooreenstemming met die wette van oorerflikheid het al Adam en Eva se nakomelinge onvolmaaktheid geërf, sowel as die neiging om te sondig, of om te doen wat verkeerd is. Romeine 5:12 sê dat “die sonde [deur een mens] in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het”.
Wat kan ons uit die voorgaande aflei? Die volgende: Die sleutel tot eindelose lewe sal nooit in ’n laboratorium gevind word nie. Slegs God kan die skade wat sonde tot gevolg gehad het, ongedaan maak. Maar sal hy? Die Bybel antwoord met nog ’n besliste ja!
“Hy sal die dood vir ewig verswelg”
God het reeds ’n groot stap gedoen om sonde en die dood te verwyder. Hy het Jesus Christus gestuur om sy lewe ten behoewe van ons te gee. Hoe kan Jesus se dood ons help? Jesus is volmaak gebore en “het geen sonde begaan nie” (1 Petrus 2:22). Gevolglik het hy die reg op eindelose, volmaakte lewe as ’n mens gehad. Wat het hy met sy volmaakte lewe gedoen? Hy het dit gewillig prysgegee om vir ons sondes te betaal. Ja, Jesus het sy lewe “as ’n losprys in ruil vir baie” gegee (Matteus 20:28). Hierdie losprys sal binnekort ten volle ten behoewe van ons aangewend word. Wat kan dit vir jou beteken? Kyk na hierdie tekste:
“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
“Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.”—Jesaja 25:8.
“As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.”—1 Korintiërs 15:26.
“Die tent van God is by die mensdom . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.
Hoe lank kan jy lewe? Die Bybel se antwoord is duidelik: Mense kan die hoop hê om vir ewig te lewe—’n hoop wat verwesenlik sal word nadat God die aarde van alle slegtheid gereinig het (Psalm 37:28, 29). Jesus het hierdie kosbare hoop in gedagte gehad toe hy vir ’n man wat langs hom aan ’n paal gehang het, gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:43.
Ja, die mens se begeerte om vir ewig te lewe, is redelik sowel as natuurlik. Dit is hoe God ons gemaak het! Wat meer is, hy sal hierdie begeerte bevredig (Psalm 145:16). Maar ons moet ons kant bring. Ons moet byvoorbeeld geloof in God opbou. Hebreërs 11:6 sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” Sulke geloof is nie liggelowigheid nie, maar ’n intelligente oortuiging wat op juiste Bybelkennis gegrond is (Hebreërs 11:1). As jy graag hierdie geloof wil verkry, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing gesels of ons webwerf besoek by www.pr2711.com/af.
^ par. 21 Adam en Eva se opstand het belangrike sedelike geskille laat ontstaan waarby God betrokke is. Hierdie geskille, wat verklaar waarom God goddeloosheid tydelik duld, word bespreek in die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik? Lees dit aanlyn by www.pr2711.com/af.