DIE BYBEL SE BESKOUING
Die kruis
Vir baie mense is die kruis die simbool van die Christelike godsdiens. Maar tog glo nie almal dat kruise gedra moet word of in huise en kerke gehang moet word nie.
Het Jesus aan ’n kruis gesterf?
WAT PARTY MENSE SÊ
Die Romeine het Jesus aan ’n kruis gehang wat uit twee stukke hout bestaan het.
WAT DIE BYBEL SÊ
Hulle het Jesus doodgemaak deur hom “aan ’n boom te hang” (Handelinge 5:30, The New Jerusalem Bible). Wanneer Bybelskrywers die instrument beskryf waarmee Jesus doodgemaak is, gebruik hulle een van twee woorde: stau·rosʹ of xyʹlon. Al twee hierdie woorde verwys na een stuk hout, nie twee nie. Die Griekse woord stau·rosʹ beteken “basies ’n paal. Dit is nie dieselfde as ’n ‘kruis’ nie”, sê Crucifixion in Antiquity. Die woord xyʹlon, wat in Handelinge 5:30 gebruik word, is “eenvoudig ’n regop paal waaraan die Romeine mense met spykers vasgenael het, en dít is as kruisiging beskryf”. *
Die Bybel wys dat die manier waarop Jesus doodgemaak is, niks nuuts was nie. Dit was ’n eeue oue vorm van teregstelling in Israel. Die Israelitiese wet het gesê: “En as daar in ’n man ’n sonde is wat die doodsvonnis verdien en hy doodgemaak is en jy hom aan ’n paal gehang het, mag sy lyk nie die hele nag aan die paal bly hang nie; . . . want iemand wat opgehang is, is deur God vervloek” (Deuteronomium 21:22, 23). Die Christenapostel Paulus het na hierdie wet verwys en geskryf: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die Wet deur in ons plek ’n vloek te word, want daar staan geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n paal [xyʹlon] gehang is’” (Galasiërs 3:13). Paulus het dus aangedui dat Jesus gesterf het aan ’n paal—’n enkele stuk hout.
“Hulle het hom doodgemaak deur hom aan ’n boom te hang.”—Handelinge 10:39, The New Jerusalem Bible.
Het Jesus se dissipels die kruis gebruik om te wys dat hulle Christene is?
WAT DIE BYBEL SÊ
Daar is geen bewyse in die Bybel dat die eerste Christene die kruis gebruik het as ’n simbool van hulle geloof nie. Maar die Romeine se gode is wel verteenwoordig deur simbole wat amper soos kruise gelyk het. En omtrent 300 jaar ná Jesus se dood het die Romeinse keiser Konstantyn die kruis begin gebruik as die embleem vir sy leërmag. Die kruis het daarna deel van die “Christelike” kerk geword.
Aangesien heidene die kruis gebruik het om hulle gode te aanbid, sou Jesus se dissipels dit gebruik het om die ware God te aanbid? Nee, glad nie. Hulle het geweet dat God nog nooit aanbidding goedgekeur het wat “enige simbool” gebruik nie, en dat Christene moet “vlug vir die afgodediens” (Deuteronomium 4:15-19; 1 Korintiërs 10:14). “God is ’n Gees”, en mense kan hom nie sien nie. Die vroeë Christene het dus nie sigbare voorwerpe en simbole gebruik om nader aan God te voel nie. Hulle het hom “met gees” aanbid, onder leiding van sy onsigbare heilige gees. En hulle het hom met “waarheid aanbid”, in ooreenstemming met God se wil soos dit in die Bybel verduidelik word.—Johannes 4:24.
‘Ware aanbidders sal die Vader met gees en waarheid aanbid.’—Johannes 4:23.
Hoe moet Christene wys dat hulle Jesus Christus respekteer?
WAT MENSE SÊ
“Dit was heel natuurlik en logies dat die instrument van redding ’n voorwerp van spesiale respek en verering sou word. . . . Hy wat die beelde waardeer, waardeer die persoon wat daardeur verteenwoordig word.”—New Catholic Encyclopedia.
WAT DIE BYBEL SÊ
Christene is baie dankbaar teenoor Jesus, want sy dood maak dit moontlik dat hulle sondes vergewe kan word, dat hulle nader aan God kan kom en dat hulle die ewige lewe kan kry (Johannes 3:16; Hebreërs 10:19-22). Daar word nie vir hulle gesê dat hulle ’n simbool van Jesus moet hê om te wys dat hulle sy offerande waardeer nie. ’n Mens kan ook nie eenvoudig net sê dat jy aan hom glo nie. Want “geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood” (Jakobus 2:17). Christene moet geloof in Jesus beoefen. Hoe?
Die Bybel sê: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; . . . sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). Christus se groot daad van liefde dring, of beweeg, Christene om hulle lewe te verander en sy voorbeeld te volg. Deur dit te doen, wys Christene dat hulle Jesus respekteer en nie ’n godsdienssimbool nie.
“Dít is die wil van my Vader, dat elkeen wat die Seun aanskou en geloof in hom beoefen, die ewige lewe moet hê.”—Johannes 6:40.
^ par. 8 A Critical Lexicon and Concordance to the English and Greek New Testament, 11de uitgawe, deur Ethelbert W. Bullinger, bladsy 818-819.