Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 5

Die waarde van volwasse leiding

Die waarde van volwasse leiding

WAT BEHELS VOLWASSE LEIDING?

Kinders het volwassenes in hulle lewe nodig wat vir hulle leiding en raad kan gee. As ’n ouer is jy in die beste posisie om dit te doen. Om die waarheid te sê, dit is jou plig. Maar ’n ander volwassene kan ook ’n mentor vir jou kind wees.

HOEKOM IS VOLWASSE LEIDING BELANGRIK?

In baie lande spandeer jongmense nie baie tyd met volwassenes nie. Dink hieraan:

  • Kinders is vir ’n groot deel van die dag by die skool, waar daar baie meer leerders as onderwysers en ander volwassenes is.

  • Wanneer party jongmense ná skool huis toe gaan, is daar niemand by die huis nie omdat albei ouers moet werk.

  • Volgens een studie spandeer kinders in die Verenigde State wat tussen 8 en 12 jaar oud is, gemiddeld ses uur elke dag aan vermaak. *

Die boek Hold On to Your Kids sê dat jongmense nie meer na hulle ouers, onderwysers en ander verantwoordelike volwassenes gaan vir raad en leiding nie, maar eerder na ander jongmense.

HOE OM LEIDING TE VOORSIEN

Spandeer tyd met jou kinders.

BYBELBEGINSEL: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” – Spreuke 22:6.

Kinders wil van nature hê dat hulle ouers vir hulle leiding moet gee. Kenners sê dat kinders, selfs wanneer hulle tieners word, gewoonlik meer waarde heg aan hulle ouers se raad as aan ander jongmense se raad. “Dwarsdeur ’n kind se tienerjare en selfs wanneer hy ’n jong volwassene is, het ouers die grootste invloed op hulle kind se gesindheid en gedrag”, skryf dr. Laurence Steinberg in die boek You and Your Adolescent. Hy voeg by: “Tieners wil weet wat jy dink en hulle luister na wat jy sê, al erken hulle dit nie altyd nie of al stem hulle nie met alles saam nie.”

Jou kinders wil jou leiding hê, en daarom moet jy doen wat jy kan om dit vir hulle te gee. Spandeer tyd met jou kinders en praat met hulle oor hoe jy oor verskillende dinge voel, oor wat vir jou belangrik is en wat jy al in die lewe ondervind het.

Kry ’n mentor vir jou kind.

BYBELBEGINSEL: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word.” – Spreuke 13:20.

Kan jy dink aan ’n volwassene wat moontlik ’n goeie rolmodel vir jou tiener sal wees? Kan jy dalk reël dat daardie persoon tyd met jou kind spandeer? Dit beteken natuurlik nie dat jy iemand anders jou rol as ouer laat oorneem nie. Maar die aanmoediging van ’n volwassene wat jy vertrou en wat ’n goeie invloed op jou kind sal hê, kan verdere opleiding vir jou kind wees. Die Bybel praat van Timoteus, wat selfs as ’n volwassene, baie baat gevind het by assosiasie met die apostel Paulus. En Paulus het ook baat gevind by Timoteus se vriendskap. – Filippense 2:20, 22.

Deesdae woon baie gesinne ver van hulle ander familielede, soos oupas en oumas, ooms en tannies, omdat so baie mense na ’n ander land trek. As julle familielede ver van julle af woon, moet jy geleenthede probeer skep vir jou tieners om te leer by ander volwassenes wat eienskappe het wat jy graag in jou kinders wil sien.

^ par. 9 Volgens die studie spandeer tieners byna nege uur per dag aan vermaak. Hierdie statistiek vir jong kinders en tieners sluit nie eers die tyd in wanneer hulle die Internet gebruik by die skool of om hulle huiswerk te doen nie.