Hoe ons in die behoeftes van ander kan voorsien
“KORT ná ’n betwiste verkiesing het daar geweld uitgebreek, wat duisende Getuies van Jehovah gedwing het om uit hulle huise te vlug”, vertel François, ’n ouer man in ’n ontwikkelende land. “Kos en medisyne het skaars geword en wat oorgebly het, was baie duur. Banke het toegemaak en OTM’s was leeg of van lyn af.”
Broers van die takkantoor het sonder versuim begin om geld en noodvoorraad af te lewer vir ontwortelde Getuies wat by Koninkryksale regoor die land bymekaargekom het. Strydende faksies het padblokkades opgestel, maar omdat albei partye geweet het dat die Getuies streng neutraal is, is die takkantoor se voertuie gewoonlik toegelaat om verby te gaan.
“Toe ons op pad was na een Koninkryksaal, het skerpskutters op ons voertuig begin skiet”, sê François. “Maar die koeëls het tussen ons verbygevlieg. Toe ons sien hoe ’n soldaat met sy wapen in sy hand na ons aangehardloop kom, het ons die voertuig onmiddellik in trurat gesit, omgedraai en na die takkantoor teruggejaag. Ons was dankbaar teenoor Jehovah dat ons lewe. Die volgende dag het die 130 broers wat in daardie Koninkryksaal was, ’n veilige skuiling gevind. Party het na die takkantoor gekom, waar ons na hulle geestelike en materiële behoeftes omgesien het totdat die krisis verby was.”
“Die takkantoor het later baie briewe van broers van regoor die land ontvang waarin hulle hulle diepe waardering uitgespreek het”, sê François. “Om te sien hoe hulle broers van ander plekke aan hulle hulp verleen het, het hulle vertroue in Jehovah laat toeneem.”
Wanneer mensgemaakte rampe en natuurrampe plaasvind, sê ons nie vir ons behoeftige broers en susters om ‘warm en goed gevoed te bly nie’ (Jak. 2:15, 16). Ons probeer eerder om in hulle fisiese behoeftes te voorsien. Nadat die dissipels in die eerste-eeu ’n waarskuwing oor ’n naderende hongersnood ontvang het, het hulle eweneens “besluit om, elkeen volgens wat hy kon bekostig, iets vir noodleniging aan die broers te stuur wat in Judea woon”.—Hand. 11:28-30.
As knegte van Jehovah wil ons behoeftige persone graag materieel help. Maar mense het ook ’n geestelike behoefte (Matt. 5:3). Om hulle te help om bewus te word van hierdie behoefte en stappe te doen om dit te bevredig, het Jesus sy volgelinge die opdrag gegee om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Elkeen van ons wy baie van ons tyd, energie en middele daaraan om hierdie opdrag uit te voer. As ’n organisasie gebruik ons van ons bydraes om materiële hulp te verleen, maar bydraes word hoofsaaklik gebruik om Koninkryksbelange te bevorder en om die goeie nuus te verkondig. Sodoende toon ons ons liefde vir God en vir ons naaste.—Matt. 22:37-39.
Diegene wat die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies ondersteun, kan seker wees dat hulle bydraes op gepaste en doeltreffende wyse gebruik word. Kan jy help om verligting te bring aan jou broers en susters wat hulp nodig het? Wil jy die dissipelmaakwerk ondersteun? Indien wel, “moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie.”—Spr. 3:27