Hulle het hulle gewillig aangebied—In Turkye
CHRISTENE in die eerste eeu het hard probeer om die “goeie nuus van die koninkryk” aan soveel mense as moontlik te verkondig (Matt. 24:14). Party het selfs na ander lande gereis. Die apostel Paulus het byvoorbeeld gereis na die streek wat vandag Turkye is en het tydens sy sendingreise daar wyd en syd gepreek. * In 2014, sowat 2 000 jaar later, was daar weer ’n spesiale predikingskampanje in Turkye. Waarom was hierdie kampanje gereël? Wie het daaraan deelgeneem?
“WAT GAAN AAN?”
Turkye het 79 miljoen inwoners, maar daar is slegs 2 800 verkondigers in die land. Dit beteken dat daar een verkondiger vir elke 28 000 inwoners is. Die verkondigers in hierdie land het baie werk om te doen. Die doel van hierdie predikingskampanje was om soveel mense moontlik in ’n kort tydjie met die goeie nuus te bereik. Sowat 550 broers en susters van ander lande wat Turks praat, het na Turkye gegaan en saam met die broers daar aan die kampanje deelgeneem. Wat was die resultaat?
’n Groot getuienis is gegee. ’n Gemeente in Istanboel het geskryf: “Toe mense ons gesien het, het hulle gevra: ‘Is daar ’n spesiale byeenkoms hier? Daar is Getuies net waar jy kyk!’” ’n Gemeente in die stad Izmir het geskryf: “’n Man by ’n taxistaanplek het vir ’n plaaslike ouer man gevra: ‘Wat gaan aan? Waarmee is julle so besig?’” Ja, almal kon sien dat ons baie bedrywig is.
Die broers wat van ander lande af gekom het, het die velddiens baie geniet. Steffen van Denemarke het gesê: “Ek kon elke dag vir mense getuig wat nog nooit van Jehovah gehoor het nie. Vir die eerste keer het dit gevoel asof ek werklik Jehovah se naam bekend maak.” Jean-David van Frankryk het geskryf: “Ons het ure lank in een straat vir mense getuig. Dit was wonderlik! Die meeste mense het nie geweet wie Jehovah se Getuies is nie. Ons kon by amper elke deur met mense praat, ’n video wys en lektuur plaas.”
In slegs twee weke het die 550 broers en susters wat aan die kampanje deelgeneem het omtrent 60 000 stukke lektuur geplaas! Hierdie kampanje het werklik ’n groot getuienis gegee.
Meer ywer vir die bediening. Die plaaslike broers is ook deur die kampanje aangemoedig. Baie het begin pionier. In die 12 maande ná die kampanje het die aantal pioniers in Turkye met 24 persent toegeneem.
Die broers en susters wat aan die kampanje deelgeneem het, vertel hoe die lesse wat hulle geleer het hulle gehelp het toe hulle teruggekeer het huis toe. Şirin, ’n suster van Duitsland, het geskryf: “Die broers in Turkye getuig baie maklik informeel. Ek is baie skaam. Die lesse wat ek tydens die kampanje geleer het, die voorbeeld van die plaaslike broers en baie gebede het my gehelp om informele getuieniswerk te doen. Ek het selfs op die trein getuig en pamflette geplaas! Nou is ek glad nie meer so skaam nie.”
Johannes van Duitsland sê: “Ek het lesse geleer wat ek nou in my eie bediening toepas. Die broers in Turkye wil vir almal getuig en hulle gebruik elke geleentheid om dit te doen. Ek het besluit om dit ook te doen wanneer ek terug is in Duitsland. En nou preek ek vir baie meer mense as tevore.”
“Hierdie kampanje het my in my bediening gehelp. Dit het my gehelp om moediger te wees en meer op Jehovah te vertrou”, sê Zeynep van Frankryk.
Die broers het mekaar beter leer ken. Die liefde en eenheid onder die broers van verskillende lande het ’n groot indruk op almal gemaak. Jean-David, wat vroeër genoem is, sê: “Ons kon die broers se gasvryheid ‘proe’. Hulle het ons as vriende aanvaar en ons soos deel van hulle familie laat voel. Hulle was baie gasvry. Ek het altyd geweet ons is ’n wêreldwye broederskap en het al baie daarvan in ons publikasies gelees. Maar
nou het ek dit self ondervind. Ek is nou nog trotser om een van Jehovah se knegte te wees en ek dank hom vir hierdie wonderlike voorreg.”“Ons is almal een familie, maak nie saak of ons van Denemarke, Frankryk, Duitsland of Turkye is nie. Dit is asof God al die grense met ’n groot uitveër uitgevee het”, sê Claire van Frankryk.
Stéphanie van Frankryk het ook gesê: “Die spesiale kampanje het ons geleer dat ons eenheid niks te doen het met kultuur of taal nie, maar eerder met ons liefde vir Jehovah.”
DIE VOORDELE
Baie van hierdie broers en susters het daaraan begin dink om Turkye toe te trek om met die groot werk daar te help. ’n Hele paar het reeds getrek en die werk wat hulle daar doen, word baie waardeer.
’n Afgesonderde groepie met 25 verkondigers het jare lank net een ouer man gehad. Hulle was baie bly toe ses verkondigers van Duitsland en Nederland hulle in 2015 kom help het!
DIEN WAAR DAAR HULP NODIG IS
Wat sê die broers en susters wat nou al ’n ruk lank in Turkye dien? Soms is dit ’n uitdaging, maar dit is baie bevredigend om te dien waar daar meer verkondigers nodig is. Kom ons kyk wat ’n paar van hulle gesê het:
“Om min besittings te hê, het sy voordele. Ek voel vry en dit help my om op die belangrikste dinge te fokus”, sê Federico, ’n getroude broer in sy vroeë 40’s van Spanje. Sal hy hierdie vorm van diens aanbeveel? “Ja, beslis!”, sê hy. “Wanneer jy na ’n ander land gaan om mense van Jehovah te leer, plaas jy jouself in Jehovah se hande. Jy voel hoe Jehovah werklik vir jou omgee.”
“Dit is baie bevredigend om te dien waar daar hulp nodig is en om die waarheid met soveel mense te deel wat dit nog nooit gehoor het nie”,
sê Rudy, ’n getroude broer in sy laat 50’s van Nederland. “Ons is baie bly wanneer ons sien hoe gelukkig mense is wanneer hulle die waarheid aanvaar.”Sascha, ’n getroude broer in sy vroeë 40’s van Duitsland, sê: “Elke keer wanneer ek in die bediening is, ontmoet ek mense wat die waarheid vir die eerste keer hoor. Dit verskaf my groot vreugde wanneer ek hulle van Jehovah kan vertel.”
Atsoeko, ’n getroude suster in haar 30’s van Japan, sê: “In die verlede kon ek nie wag dat Armageddon moet kom nie. Maar noudat ek in Turkye is, is ek baie bly dat Jehovah so geduldig is. Hoe meer ek sien hoe Jehovah die wêreldwye predikingswerk rig, hoe meer wil ek Jehovah se vriend wees.”
Alisa, ’n suster in haar 30’s van Rusland, sê: “Om Jehovah op hierdie manier te dien, het my gehelp om Jehovah se goedheid te smaak” (Ps. 34:8). Sy sê ook: “Jehovah is nie net my Vader nie, maar ook my Vriend. Elke situasie help my om hom beter te leer ken. My lewe is vol opwindende ondervindinge en ek geniet baie seëninge!”
“AANSKOU DIE LANDE”
Baie mense is met hierdie spesiale kampanje in Turkye bereik, maar daar is nog ’n groot gebied wat gedek moet word. Die verkondigers wat in Turkye gaan help het, ontmoet elke dag mense wat nog nooit van Jehovah gehoor het nie. Wil jy graag in so ’n gebied dien? Indien wel, moedig ons julle aan: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Kan jy gaan dien waar die veld “wit is vir die oes”? Indien wel, begin nou al om planne te maak om jou doelwit te bereik. Een ding is seker: Wanneer ons ’n groter aandeel daaraan het om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig, sal ons ryk seëninge ontvang!—Hand. 1:8.
^ par. 2 Sien die brosjure ‘Sien die goeie land’, bl. 32-33.