Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe belangrik was musiek in eertydse Israel?

MUSIEK was ’n baie belangrike deel van die Israeliete se kultuur. Die Bybel praat dikwels van mense wat instrumente speel en liedjies sing. Om die waarheid te sê, omtrent ’n tiende van die Bybel is liedjies, en die vernaamste voorbeelde hiervan is die boeke Psalms, Hooglied van Salomo en Klaagliedere. En die boek Music in Biblical Life sê dat die Bybel duidelik wys dat die Israeliete musiek in baie van hulle alledaagse aktiwiteite gebruik het.

Musiek in alledaagse lewe. Die Israeliete het musiek gespeel om te wys hoe hulle voel (Jes. 30:29). Vrouens het op tamboeryne gespeel, vreugdevol gesing en gedans gedurende vieringe soos wanneer ’n nuwe koning gekroon is, wanneer die soldate ’n oorlog gewen het en by feeste vir aanbidding (Rigt. 11:34; 1 Sam. 18:​6, 7; 1 Kon. 1:​39, 40). Israeliete het ook baie emosionele treurliedere gesing wanneer iemand gesterf het (2 Kron. 35:25). Dit is duidelik dat “die Hebreërs ’n besonder musikale volk was”, sê McClintock en Strong se Cyclopedia.

Musiek in die koninklike hof. Die konings van Israel het dit geniet om na musiek te luister. Koning Saul het vir Dawid na sy koninklike hof geroep om as ’n musikant te dien (1 Sam. 16:​18, 23). Later toe Dawid koning geword het, het hy musiekinstrumente ontwerp, pragtige liedjies geskryf en die orkes georganiseer wat by Jehovah se tempel gespeel het (2 Kron. 7:6; Amos 6:5). Koning Salomo het sangers en sangeresse in sy hof gehad. – Pred. 2:8.

Musiek in aanbidding. Nog belangriker, die Israeliete het musiek gebruik om Jehovah te aanbid. Om die waarheid te sê, 4 000 musikante het instrumente gespeel by die tempel in Jerusalem (1 Kron. 23:5). Hulle het op simbale, snaarinstrumente, harpe en trompette gespeel (2 Kron. 5:12). Maar hierdie goeie musikante was nie die enigstes wat Jehovah met musiek aanbid het nie. Baie Israeliete het blykbaar die Liedere van die Opgange gesing terwyl hulle gereis het na die jaarlikse feeste in Jerusalem (Ps. 120–134). En volgens Joodse geskrifte het die Israeliete die Hallel-Psalms a gesing gedurende die Pasgamaaltyd.

Musiek is nog steeds baie belangrik vir God se volk (Jak. 5:13). Ons sing as deel van ons aanbidding (Ef. 5:19). Musiek verenig ons met ons broers en susters (Kol. 3:16). En dit versterk ons wanneer ons deur moeilike tye gaan (Hand. 16:25). Musiek is ’n pragtige manier om ons geloof in Jehovah en ons liefde vir hom te wys.

a Die Jode verwys na Psalm 113 tot 118 as die Hallel-Psalms, wat gesing is om Jehovah te loof.