Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP: DIE OPSTANDING VAN JESUS—WAT DIT VIR JOU BETEKEN.

Die opstanding van Jesus—Het dit werklik plaasgevind?

Die opstanding van Jesus—Het dit werklik plaasgevind?

HERODOTUS, ’n Griekse geskiedskrywer wat 2 500 jaar gelede gelewe het, het ’n verhaal vertel van die Egiptenare van sy dag. “By rykes se feesmale”, het hy geskryf, “dra ’n man ná aandete ’n doodskis rond, wat een of twee el lank is en waarin daar ’n houtbeeld van ’n lyk is wat geverf en gekerf is om presies soos ’n dooie mens te lyk. Hy wys dit vir almal wat daar is en sê: ‘Drink en wees vrolik, maar kyk hierna; want so sal julle wees wanneer julle dood is.’”

Hierdie gesindheid teenoor die lewe en die dood was nie uniek aan die Egiptenare nie. Vandag het die uitdrukking “Eet, drink en wees vrolik” ’n algemene gesegde geword. As die lewe by die dood eindig, waarom dit dan nie ten volle geniet nie? Waarom verhewe waardes nastreef? As alles by die dood eindig, maak dit heeltemal sin om vir die oomblik te lewe. Die apostel Paulus het iets soortgelyks gesê. Hy het die gesindheid van mense wat nie aan die opstanding glo nie, beskryf en gesê: “As die dooies nie opgewek gaan word nie, ‘laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf’.”—1 Korintiërs 15:32.

Paulus het natuurlik nie geglo dat die dood die einde van alles is nie. Hy was oortuig daarvan dat die dooies weer kan lewe, met die vooruitsig om nooit weer te sterf nie. Hierdie oortuiging was gegrond op ’n uiters belangrike gebeurtenis wat hy as onbetwisbaar beskou het—die opstanding * van Christus Jesus. Trouens, hierdie opstanding was die grootste enkele gebeurtenis wat die geloof van die vroeë dissipels versterk het.

Maar wat beteken die opstanding van Jesus vir ons? Hoe weet ons of dit hoegenaamd gebeur het? Kom ons kyk hoe Paulus hieroor geredeneer het toe hy aan die Christene in Korinte geskryf het.

GESTEL CHRISTUS IS NIE OPGEWEK NIE

Party Christene in eertydse Korinte was verward oor die saak, en ander het glad nie aan die letterlike opstanding geglo nie. Die apostel het in sy eerste brief aan die Christene daar genoem wat die gevolge sou wees as die opstanding nie werklik plaasgevind het nie. Hy het geskryf: “As daar werklik geen opstanding van die dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs. Bowendien word ons dan valse getuies aangaande God bevind . . . Julle geloof [is] nutteloos; julle is nog in julle sondes. . . . Ook dié wat in eenheid met Christus ontslaap het, het vergaan.”—1 Korintiërs 15:13-18.

“Hy [het] aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn . . . Daarna het hy aan Jakobus verskyn, toe aan al die apostels; maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn.”—1 Korintiërs 15:6-8

Paulus het begin met ’n stelling wat nie weerlê kan word nie: As die dooies nie opgewek gaan word nie, dan is Christus, wat gesterf het, nie uit die dood opgewek nie. Wat sou dit beteken as Christus nie opgewek is nie? Die verkondiging van die goeie nuus sou tevergeefs wees, ’n groot leuen. Die opstanding van Christus is immers ’n sleutelelement van die Christelike geloof en is onafskeidbaar verbonde aan party van die Bybel se grondleerstellings oor God se soewereiniteit, sy naam, sy Koninkryk en ons redding. As die opstanding nie plaasgevind het nie, sou die boodskap wat Paulus en die ander apostels verkondig het, uit niks anders as leë, nuttelose woorde bestaan het nie.

Daar sou ook ander gevolge wees. As Christus nie uit die dood opgewek is nie, sou die Christelike geloof tevergeefs, leeg en op ’n leuen gegrond wees. Boonop sou Paulus en die ander Christene valse getuies gewees het, nie net aangaande die opstanding van Jesus nie, maar ook aangaande die een wat hulle gesê het hom opgewek het, Jehovah God. Wat meer is, die bewering dat Christus “vir ons sondes gesterf het”, sou ook onwaar wees—want as die Redder self nie uit die dood gered is nie, sou hy ander nie kon red nie (1 Korintiërs 15:3). Dit sou beteken dat Christene wat gesterf het, in party gevalle as martelaars, gesterf het met die valse hoop dat hulle opgewek sou word.

Paulus het tot die slotsom gekom: “As ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Korintiërs 15:19). Soos ander Christene, het Paulus verliese gely, vervolging ondervind, ontberinge verduur en voor die dood te staan gekom omdat hy geglo het aan die opstanding en alles wat dit insluit. Hoe sinloos sou dit tog gewees het as die opstanding niks anders as ’n leuen was nie!

WAAROM JY MOET GLO

Paulus was oortuig dat die Christene se geloof nie op ’n leuen gegrond is nie. Hy het geweet dat Jesus uit die dood opgewek is, en hy het die bewyse vir die Korintiërs opgesom, naamlik “dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif; en dat hy aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf”. * Toe het Paulus bygevoeg: “Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, waarvan die meeste nou nog lewe, maar party ontslaap het. Daarna het hy aan Jakobus verskyn, toe aan al die apostels; maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn.”—1 Korintiërs 15:3-8.

Paulus het begin deur met oortuiging te sê dat Christus vir ons sondes gesterf het, begrawe is en opgewek is. Waarom was Paulus so seker hiervan? Een rede was dat dit deur talle ooggetuies bevestig is. Die verrese Jesus het aan individue (insluitende Paulus), aan klein groepies en selfs aan ’n skare van 500 verskyn, van wie baie ongetwyfeld skepties was toe hulle die nuus hoor dat Jesus opgewek is! (Lukas 24:1-11). Die meeste van die ooggetuies het in Paulus se dag nog gelewe en kon bevestig dat Jesus aan hulle verskyn het (1 Korintiërs 15:6). Die getuienis van een of twee persone kon miskien maklik verwerp word, maar nie die getuienis van 500 of meer ooggetuies nie.

Let ook op dat Paulus twee keer gesê het dat die dood, begrafnis en opstanding van Jesus “volgens die Skrif” was. Hierdie gebeure het bevestig dat Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte bewaarheid is, wat bewys het dat Jesus inderdaad die beloofde Messias was.

Hoewel ooggetuies en die Skrif bevestig dat Jesus uit die dood opgewek is, was daar en is daar nog steeds persone wat dit betwyfel. Party sê dat sy liggaam deur sy dissipels gesteel is, wat toe beweer het dat hulle ooggetuies van die opstanding is. Maar die dissipels sou nie die Romeinse wagte wat die ingang van die graf bewaak het, kon oorrompel nie, en hulle het ook nie die invloed gehad om by hulle verby te kom nie. Ander beweer dat Jesus se verskynings net illusies was. Hierdie teorie word weerlê deur die feit dat Jesus op verskillende tye aan baie mense verskyn het. En is dit redelik om te glo dat ’n illusie vis kon gaarmaak en bedien, soos die verrese Jesus in Galilea gedoen het? (Johannes 21:9-14). Sou ’n illusie in die vorm van ’n man mense nooi om aan hom te raak?—Lukas 24:36-39.

Nog ander voer aan dat die opstanding ’n leuen was wat deur Jesus se dissipels versin is. Maar sou dit vir hulle enige voordeel inhou? Omdat die dissipels van die opstanding getuig het, het hulle die risiko geloop om bespot te word, te ly en doodgemaak te word. Waarom sou hulle hulle aan soveel gevaar blootstel om ’n blote leuen te bevorder? Wat meer is, hulle het eers in Jerusalem getuig, reg daar onder die neus van hulle teenstanders, wat enige verskoning gesoek het om hulle te veroordeel.

Dit was juis die opstanding wat die dissipels die moed gegee het om te getuig van hulle Here, selfs al moes hulle die hewigste vervolging verduur. Die opstanding is ’n feit en het deel geword van die grondslag waarop die Christelike geloof berus. Die vroeë Christene het nie hulle lewe gewaag bloot om te getuig van ’n wyse leermeester wat vermoor is nie. Hulle het hulle lewe gewaag om Jesus se opstanding te verkondig omdat dit bewys het dat hy die Christus is, die Seun van God, ’n magtige, lewende persoon wat hulle ondersteun en gelei het. Sy opstanding het beteken dat hulle ook uit die dood opgewek sou word. Trouens, as Jesus nie uit die dood opgewek is nie, sou daar geen Christelike godsdiens gewees het nie. As Jesus nie opgewek is nie, sou ons moontlik nooit eens van hom gehoor het nie.

Maar wat beteken Christus se opstanding vandag vir ons?

^ par. 5 In die Bybel beteken die Griekse woord wat met “opstanding” vertaal word, letterlik “om weer op te staan”. Dit impliseer dat ’n persoon weer lewend gemaak word met sy of haar unieke identiteit, persoonlikheid en herinneringe.

^ par. 13 “Die twaalf” is ’n ander manier om na “die apostels” te verwys, hoewel daar ’n ruk ná die dood van Judas Iskariot net 11 was. By een geleentheid toe Jesus aan hulle verskyn het, was daar hoogstens 10 wat die 12 verteenwoordig het, want Tomas was nie daar nie.—Johannes 20:24.