Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SLEUTELS TOT GESINSGELUK

Hoe om ’n sukses te maak van ’n tweede huwelik

Hoe om ’n sukses te maak van ’n tweede huwelik

HERMAN: * “My eerste vrou het aan kanker gesterf nadat ons 34 jaar getroud was. Toe ek weer getrou het, het my vrou Linda gevoel dat ek haar altyd met my eerste vrou vergelyk. Om sake te vererger, het ou vriende dikwels van my oorlede vrou se goeie eienskappe gepraat, en dit het Linda omgekrap.”

LINDA: “Nadat ek en Herman getroud is, het dit gevoel asof ek in die skaduwee van sy eerste vrou lewe. Sy was baie gewild, saggeaard en verfynd. Ek wonder soms of ek ooit so na aan hom sal kan wees soos sy was.”

Herman en Linda is bly dat hulle mekaar gevind het. Linda, wat van haar eerste man geskei is, noem Herman selfs haar “ridder op ’n wit perd”. Maar soos hulle erken, kan ’n tweede huwelik uitdagings bied wat nie in ’n eerste huwelik ondervind word nie. *

As jy weer getrou het, hoe voel jy oor jou tweede huwelik? ’n Vrou met die naam Tamara, wat drie jaar ná haar egskeiding weer getrou het, sê: “Wanneer jy die eerste keer trou, het jy ’n spesiale gevoel dat jou huwelik vir ewig sal duur. Maar met ’n tweede huwelik het jy moontlik nie hierdie gevoel nie, want jy is altyd daarvan bewus dat jou eerste huwelik tot ’n einde gekom het.”

Nietemin het baie egpare ware en blywende geluk gevind nadat hulle weer getrou het. Hulle het ’n sukses van hulle huwelik gemaak—en jy kan ook!  Hoe? Kyk na drie algemene uitdagings en hoe Bybelbeginsels jou kan help om dit die hoof te bied. *

UITDAGING 1: DIT IS VIR JOU MOEILIK OM TE VOORKOM DAT JOU HUWELIK DEUR ’N VROEËRE HUWELIK OORSKADU WORD.

“Ek kan nie herinneringe aan my eerste huwelik net uitwis nie, veral nie wanneer ons na dieselfde plekke reis as waar ek en my vorige man vakansie gehou het nie”, sê Ellen, wat in Suid-Afrika woon. “Soms vergelyk ek my huidige man met my vorige man.” As jou maat daarenteen voorheen getroud was, hou jy moontlik niks daarvan as hy of sy dikwels oor daardie huwelik praat nie.

Skep nuwe herinneringe wat julle as ’n egpaar verenig

WENK: Aanvaar die feit dat dit onrealisties is om te verwag dat jy of jou maat ’n eerste huwelik eenvoudig sal vergeet, veral as een of albei van julle jare lank getroud was. Trouens, party mense erken dat hulle al per ongeluk hulle vorige huweliksmaat se naam gebruik het toe hulle hulle maat aangespreek het! Wat kan jy in hierdie of ’n soortgelyke situasie doen? “Probeer mekaar verstaan”, sê die Bybel.—1 Petrus 3:8, New Century Version.

Moenie jou maat uit jaloesie verbied om enigiets oor ’n eerste huwelik te sê nie. As jou maat die behoefte het om oor die lewe saam met sy of haar vorige huweliksmaat te praat, moet jy met simpatie en medelye luister. Moet ook nie gou tot die slotsom kom dat jy met die ander persoon vergelyk word nie. “My vrou Kaitlyn het nie omgegee as ek oor my vorige vrou praat nie”, sê Ian, wat tien jaar gelede weer getrou het. “Sy het dit eerder beskou as ’n manier om my beter te leer ken.” Jy sal dalk selfs vind dat sulke gesprekke jou sal help om ’n hegter band met jou nuwe maat te smee.

Konsentreer op jou huidige maat se unieke en goeie eienskappe. Jou maat het dalk nie van die eienskappe of vermoëns wat jou vorige maat gehad het nie. Maar jou huidige maat blink waarskynlik uit op ander gebiede. Moet dus nie jou maat ‘met die ander persoon vergelyk’ nie, maar versterk eerder die grondslag van jou huidige huwelik deur na te dink oor wat jou lief maak vir jou maat en dit te waardeer (Galasiërs 6:4). ’n Man met die naam Edmond, wat twee keer getroud was, stel dit so: “Net soos twee vriendskappe nie dieselfde kan wees nie, kan twee huwelike nie dieselfde wees nie.”

Hoe kan jy ’n balans handhaaf tussen die aangename herinneringe van jou eerste huwelik en die lewe wat jy saam met jou nuwe maat begin het? “Ek het eenkeer vir my vrou verduidelik dat my eerste huwelik soos ’n pragtige boek is wat ek en my eerste vrou saam geskryf het”, sê Jared. “Ek sal dalk nou en dan hierdie boek oopmaak, daarin lees en nadink oor ons goeie ondervindinge. Maar ek lewe nie in hierdie boek nie. Ek en my vrou skryf eerder ons eie boek saam, en dit is waar ek nou gelukkig lewe.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Vra jou maat of hy of sy ooit ongemaklik voel wanneer ’n eerste huwelik die onderwerp van ’n gesprek word. Besluit in watter situasies dit goed sal wees om nie oor ’n eerste huwelik te praat nie.

UITDAGING 2: DIT IS VIR JOU MOEILIK OM SAAM MET OU VRIENDE TE KUIER WAT JOU NUWE HUWELIKSMAAT NIE GOED KEN NIE.

“Vir ’n hele ruk nadat ons getrou het, het my vrou gevoel dat ’n paar van my vriende haar heeltyd fyn dophou”, sê Javier, wat ses jaar ná sy egskeiding weer getrou het. ’n Man met die naam Leo het hom in ’n ander situasie bevind. Hy vertel: “Party mense het vir my vrou gesê hoe lief hulle vir haar vorige man was en hoeveel hulle hom mis—en dit vóór my!”

WENK: Probeer jou in jou vriende se situasie indink. “Ek dink dit is soms vir ou vriende baie moeilik en ongemaklik as daar net een persoon oor is van die paartjie saam met wie hulle altyd gekuier het”, sê Ian, wat vroeër aangehaal is. Probeer dus om “redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Titus 3:2). Gee jou vriende en familie tyd om aan die situasie gewoond te raak. Jou huwelik het verander, en daarom sal jou vriendskappe dalk ook verander. Javier, wat ook vroeër aangehaal is, sê dat hy en sy vrou met verloop van tyd ou vriendskappe hernieu het. “Maar ons probeer ook om as ’n egpaar nuwe vriende te maak”, voeg hy by, “en dit help ons baie.”

 Neem jou maat se gevoelens in ag wanneer julle tyd saam met ou vriende deurbring. As jou eerste huwelik byvoorbeeld die onderwerp van ’n gesprek word, moet jy taktvol wees en goeie oordeel aan die dag lê sodat jou maat nie uitgesluit voel nie. “As ’n persoon iets sê sonder om te dink”, sê ’n Bybelspreuk, “kan sy woorde seermaak soos swaardsteke. Maar ’n wyse persoon let op wat hy sê. Sy woorde kan daardie wonde genees.”—Spreuke 12:18, Holy Bible—Easy-to-Read Version.

PROBEER DIE VOLGENDE: Dink by watter gesellighede jy of jou maat moontlik ongemaklik sal voel. Bespreek voor die tyd wat die beste manier sal wees om te reageer op vriende se vrae en opmerkings oor ’n eerste huwelik.

UITDAGING 3: DIT IS VIR JOU MOEILIK OM JOU NUWE MAAT TE VERTROU OMDAT JOU EERSTE MAAT ONTROU WAS.

“Ek was altyd baie bang dat ek weer die slagoffer van ontrouheid sal wees”, sê Andrew, wie se eerste vrou hom verlaat het. Later het hy met sy huidige vrou, Riley, getrou. “Ek het dikwels gewonder of ek ooit so goed soos Riley se eerste man sal kan wees. Ek was selfs bang dat sy sal besluit dat ek nie goed genoeg is nie en my dan sal verlaat vir iemand anders.”

WENK: Praat openlik met jou maat oor jou bekommernisse. “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie”, sê die Bybel (Spreuke 15:22). Vertroulike gesprekke het Andrew en Riley uiteindelik gehelp om mekaar te vertrou. “Ek het vir Riley gesê dat ek egskeiding nooit as ’n maklike uitweg sal gebruik wanneer probleme ontstaan nie”, sê Andrew, “en Riley het my dieselfde versekering gegee. Ek het mettertyd geleer om haar ten volle te vertrou.”

As jou maat se vorige huweliksmaat ontrou was, moet jy doelbewuste stappe doen om jou maat se vertroue te wen. Byvoorbeeld, Michel en Sabine, wie se eerste huwelike in ’n egskeiding geëindig het, het saam besluit om vir mekaar te sê as hulle enige kontak met hulle vorige maat gehad het. “Hierdie besluit het ons veilig en gerus laat voel”, sê Sabine.—Efesiërs 4:25.

PROBEER DIE VOLGENDE: Stel perke op private kommunikasie met die teenoorgestelde geslag, hetsy van aangesig tot aangesig, oor die telefoon of op die Internet.

Baie tweede huwelike is ’n sukses, en joune kan ook wees. Jy ken jouself waarskynlik nou beter as toe jy die eerste keer getrou het. “Ek het groot vertroosting geput uit my huwelik met Riley”, sê Andrew, wat vroeër aangehaal is. “Ons is nou 13 jaar getroud en het ’n baie hegte verhouding—iets wat ons nooit wil verloor nie.”

^ par. 3 Name is verander.

^ par. 5 Die dood van ’n huweliksmaat beëindig ’n huwelik natuurlik op ’n heeltemal ander manier as ’n egskeiding. Hierdie artikel is saamgestel om persone in enige van hierdie twee situasies te help om ’n sukses van ’n tweede huwelik te maak.

^ par. 7 Vir inligting oor die uitdagings wat dit inhou om stiefkinders groot te maak, sien die reeks artikels “Stiefgesinne—Die sleutels tot sukses” in die Ontwaak! vir April 2012, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU AF . . .

  • Wat is van my maat se unieke eienskappe wat ek baie waardeer?

  • Wat kan ek doen sodat ek my huidige maat kan gerusstel en waardigheid aan hom of haar kan verleen as my eerste huwelik die onderwerp van ’n gesprek word?