VOORBLADONDERWERP | IS DIE DOOD DIE EINDE VAN ALLES?
Die angel van die dood
Die dood is ’n moeilike onderwerp, en daarom verkies baie mense om nie daaroor te praat nie. Maar die een of ander tyd sal ons daardeur geraak word. En die angel van die dood is skerp en pynlik.
Niks kan ons heeltemal voorberei op die verlies van ’n ouer, ’n huweliksmaat of ’n kind nie. ’n Tragedie kan onverwags plaasvind of oor ’n lang tydperk ontvou. Hoe dit ook al sy, ons kan nie die pyn wat deur die dood veroorsaak word, vryspring nie, en die feit dat dit so finaal is, kan oorweldigend wees.
Antonio, wat sy pa in ’n padongeluk verloor het, verduidelik: “Dit is asof iemand jou huis sluit en jou sleutels wegneem. Jy kan nooit weer huis toe gaan nie. Al wat oorbly, is jou herinneringe. Dit is die nuwe werklikheid. Al probeer jy dit ontken
Dorothy, wat op 47-jarige ouderdom ’n weduwee geword het, was vasbeslote om antwoorde oor die dood te vind. As Sondagskoolonderwyseres het sy nooit gedink dat die dood die einde van alles is nie. Maar sy het nie duidelike antwoorde gehad nie. “Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?” het sy haar Anglikaanse predikant gevra. “Niemand weet werklik nie”, het hy geantwoord. “Ons sal moet kyk wat gebeur.”
Het ons geen ander keuse as om net te “kyk wat gebeur” nie? Kan ons vir seker weet of die dood die einde van alles is?