Het jy geweet?
Wat was die rol van ’n hoofman oor honderd in die Romeinse leër?
In die Christelike Griekse Geskrifte word daar ’n paar keer melding gemaak van Romeinse hoofmanne oor honderd. Die leëroffisier wat toesig gehou het oor Jesus se teregstelling, het hierdie rang beklee, asook Kornelius, die eerste nie-Jood wat ’n Christen geword het. Die offisier wat sou toesien dat die apostel Paulus gegesel word en Julius, wat Paulus na Rome vergesel het, was ook hoofmanne oor honderd.—Markus 15:39; Handelinge 10:1, voetnoot in NW; 22:25; 27:1.
’n Hoofman oor honderd het gewoonlik bevel gevoer oor ’n centurie, ’n afdeling van die leër wat uit 50 tot 100 voetsoldate bestaan het. Sy pligte het ingesluit om sy manne op te lei en te dissiplineer, hulle klere en toerusting te inspekteer en hulle te kommandeer wanneer hulle ontplooi word.
Die rang van hoofman oor honderd was die hoogste rang wat ’n gewone soldaat kon bereik. Dié wat hierdie amp beklee het, was beroepsoldate wat goeie leiers moes wees. Die dissipline in die magtige Romeinse leër en die doeltreffendheid daarvan het van hulle afgehang. Volgens een bron was hoofmanne oor honderd “dikwels die mees ervare en mees ingeligte manne in die leër.”
Hoe het spieëls in Bybeltye verskil van dié wat ons vandag gebruik?
Anders as die glasspieëls van vandag, was spieëls in Bybeltye oor die algemeen gemaak van metaal wat blink gepoleer is—gewoonlik brons, maar moontlik ook koper, silwer, goud of elektrum. Die eerste keer dat spieëls in die Bybel genoem word, is in verband met die bou van die tabernakel, Israel se eerste sentrum van aanbidding. Vroue het spieëls gegee, waaruit ’n heilige koperkom en die voetstuk daarvan gemaak is (Eksodus 38:8). Die spieëls is waarskynlik gesmelt om vir hierdie doel gebruik te word.
Spieëls wat tydens argeologiese opgrawings in en om Israel gevind is, is dikwels gevind saam met juweliersware en ander items waarmee vroue hulle versier het. Hierdie spieëls was gewoonlik rond en het ’n versierde handvatsel gehad wat van hout, metaal of ivoor gemaak was en dikwels die vorm van ’n vroulike figuur gehad het. Die ongepoleerde kant van die spieël is gewoonlik nie versier nie.
Eertydse spieëls kon ’n beeld nie so goed weerkaats soos vandag se glasspieëls nie. Dit verklaar moontlik waarna die apostel Paulus verwys het toe hy gesê het: “Nou sien ons deur middel van ’n metaalspieël in vae omtrekke.”—1 Korintiërs 13:12.